Boer se aanvaller tronk toe gestuur
2011-08-30 08:07
Kroonstad – ’n Man wat op ’n fyn beplande wyse ’n boer van die omgewing uit sy plaashuis gelok en toe sinloos geskiet het, is Maandag hier in die streekhof 44 jaar tronkstraf opgelê, waarvan hy 20 jaar moet uitdien.
Francis Makatsa (32), wat berug is vir sy halsstarrige houding in die hof, het ná die vonnisoplegging en voordat die hof verdaag het, in ’n woede-uitbarsting sarkasties vir streeklanddros Johan Visagie “bedank” vir dié vonnis weens onder meer die aanval op Jurie Geldenhuys (42) van die plaas Doornspruit, ongeveer 20 km buite Kroonstad op die Viljoenskroonpad.
“Ek gaan op ’n eetstaking,” het Makatsa gedreig voordat ’n hofordonnans hom aangejaag het om die beskuldigdebank te verlaat.
Vanuit die ondergrondse polisieselle kon daar tot in die hofsaal gehoor word hoe Makatsa tekere gaan.
Dít het die einde gebring aan ’n verhoor van meer as drie jaar. Die sloerdery was grotendeels Makatsa se eie skuld.
Makatsa is Maandag skuldig bevind op twee aanklagte van diefstal, twee van die onwettige besit van ’n vuurwapen en een van poging tot moord.
Hy het op 13 Februarie 2008 ’n pistool van Themba Mateza (55) gesteel.
Makatsa is ook skuldig bevind aan die diefstal van ’n pistool van Geldenhuys.
Geldenhuys kon die middag van 2 Maart 2008 sy Nokia-selfoon nêrens vind nie en het gedink hy het dit verlê, het die boer getuig.
Geldenhuys was in sy huis toe die krag dié dag omstreeks 18:30 afgegaan het. Sy hond het ook geblaf. Geldenhuys is na buite om ondersoek in te stel, waar hy Makatsa by ’n hek sien staan het.
Makatsa het vir Geldenhuys ’n foon in sy hand gewys, wat Geldenhuys dadelik as syne wat “verlê” is, uitgeken het.
Geldenhuys het die foon by Makatsa gevat en op pad terug na sy huis is hy van agter in sy been geskiet.
Geldenhuys het gevlug. Hy het oorleef.
Streeklanddros Visagie sê hoewel Geldenhuys in die been geskiet is, maak dit nie afbreuk daaraan dat hy met die opset geskiet is om te sterf nie.
Visagie het gesê die aanval op Geldenhuys was sinloos.
Makatsa se reputasie van halsstarrigheid spruit uit sy gedrag in die hof.
Sy verhoor het reeds in 2008 begin, maar hy het oor ’n tydperk minstens twee prokureurs in die pad gesteek. Makatsa het in ’n stadium sy eie verdediging behartig. Hy het ook volstrek geweier om te pleit.
By tye het Makatsa geweier om in die hof te verskyn. Sonder grondige redes wou hy gehad het streeklanddros Visagie en Johann Wiegand, aanklaer, moet hulle van die verhoor onttrek. Dit het nie gebeur nie.
Baie tyd het verloop voordat hy oplaas besluit het op die diens van Wikus Stoffberg as prokureur, waarna ’n oorkonde gereed gekry moes word en al die staatsgetuies van nuuts af moes kom getuig.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad