Boer pleit skuldig ná seun se dood
2012-08-02 20:50
Johannesburg – ’n Boer van Limpopo het Donderdag op 'n aanklag van onder andere strafbare manslag skuldig gepleit ná die dood van 14-jarige seun.
Piet Swart (57), wat in die Groblersdal-landdroshof verskyn het, het skuldig gepleit op aanklagte van strafbare manslag, aanranding met die doel om ernstig te beseer en drie aanklagte van algemene aanranding, het lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, gesê.
Swart het verlede jaar op ’n groep seuns wat visgevang het by ’n dam op sy plaas, geskiet. Die 14-jarige seun is in die kop geskiet en ’n 17-jarige seun se linkerhand is raak geskiet.
“Hy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is op voorwaarde dat hy nie ’n soortgelyke oortreding pleeg gedurende die periode van die vonnis nie.”
Swart is beveel om R100 000 aan die families van die slagoffers te betaal.
“Die familie van die seun wat dood is sal R75 000 ontvang en die 17-jarige seun sal R25 000 ontvang.
Swart het die gewonde tieners na die hospitaal geneem, maar die seun is met sy aankoms dood verklaar. Die ander seun het behandeling by die hospitaal ontvang en is later ontslaan.
Die twee ander kinders was ongedeerd.
– Volg Nuus24 op Twitter.