Boer oorleef gyselaarsdrama
2009-12-15 08:57
Bloemfontein - Twee aanvallers is na ’n twintig uur lange gyselaardsdrama buite Petrusburg in die Vrystaat deur skerpkutters van die polisie doodgeskiet, het paramedici gesê.
Gerhard Venter is vir byna twintig ure op die Abrahamskraalpad, 20 km buite Bloemfontein, in sy bakkie aangehou.
Lloyd Krause, ’n ER24-woordvoerder het gesê die drama het omstreeks 10:00 gisteroggend begin toe ’n plaas in die Petrusburg-omgewing aangeval is.
Gerhard Venter (ongeveer 50 jaar oud) en sy broerskind, Gerdus Venter (iets in die dertig) het ’n ander boer in die omgewing te hulp gesnel het nadat hulle gehoor het van ’n aanval op hom.
Die aanvallers het Flip Kotzé van die plaas Uitvlug, sowat 20 km buite Petrusburg, aangehou, sy arm gebreek en hom van sy geweer en selfoon beroof.
Dit was die tweede aanval binne vyf jaar op die plaas.
Die Venters het omstreeks 10:00 naby Kotzé se huis op die twee aanvallers afgekom. Die mans het groot sportsakke by hulle gehad en het beweer hulle is op die plaas om te help om aartappels uit te haal.
Die Venters het die mans egter beveel om saam met hulle in die bakkie te klim.
Die boere het vermoedelik ’n radio by hulle gehad waarop hulle gehoor het van die aanval op Kotzé. Na verneem word is daar oor die radio ’n beskrywing van die aanvallers gegee kort nadat die Venters die mans opgelaai het.
Die vermoede bestaan dat die twee plaasaanvallers dit gehoor het, waarna hulle die Venters met Kotzé se rewolwer oorval het. Die aanvallers het die boere se vuurwapens afgeneem en hulle beveel om in die rigting van Bloemfontein te ry.
Gerhard Venter het toe glo aan sy broerskind gesê om uit die bakkie te spring as hy kan.
Supt. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê Gerdus Venter het dit reggekry om te ontsnap en om hulp te gaan soek. Twee skote is glo op hom geskiet, maar hy is nie getref nie.
Die gyselaarsdrama op die Abrahamskraalpad het omstreeks 14:00 begin toe die polisie die bakkie opgespoor en dit omsingel het.
’n Gyselaar-onderhandelaar het omstreeks 16:00 met die aanvallers begin onderhandel om Venter van die plaas Oranje te bevry. Wrensch sê die hulle het daarop aangedring dat ’n padversperring oopgemaak word sodat hulle kan wegkom.
Die polisie se spesiale taakmag van Durban se hulp is intussen ingeroep.
Taakmaglede het teen 18:15 op die toneel opgedaag nadat hul vlug na Bloemfontein twee keer vertraag is weens gure weer.
Tientalle lede van die polisie, onder wie adj.komm. Erick Nkuna, adjunk-polisiehoof van die Vrystaat, was ook op die toneel, waar omstandighede deur reën en hael bemoeilik is.
Lede van die nooddienste en die gemeenskap het intussen sowat 1 km van die toneel begin saamdrom, waar die polisie ’n padversperring opgestel het.
Teen gisteraand omstreeks 20:00 het die aanvallers die bakkie se matte geneem en die voertuig se vensters daarmee toegemaak om te voorkom dat buitestanders kan sien wat binne die bakkie gebeur.
Kos is ongeveer 21:00 die aand na die bakkie gestuur.
Die onderhandelings met die aanvallers het tot ongeveer 07:00 Dinsdagoggend geduur toe die twee aanvallers deur taakmaglede doodgeskiet is, het Krause gesê.
"Albei aanvallers het op die toneel gesterf. Venter is kort daarna na die hospitaal geneem vir verdere behandeling. Hy het slegs matige beserings opgedoen."
- Beeld en Sapa