Boer ook vas oor regse komplot
2013-01-31 12:01
Bloemfontein – Nóg 'n man is in hegtenis geneem in verband met ’n komplot om terreur in die land aan te stig, is Donderdag berig.
Die 31-jarige man sal Donderdag op aanklag van hoogverrad in die Bloemfontein-landdroshof verskyn, berig Volksblad.
Voorlopige inligting dui daarop dat dié 31-jarige boer van Aberdeen, wat vandeesweek in sy tuisdistrik in hegtenis geneem is, verantwoordelik sou wees om brandstofopgaartenks in Port Elizabeth op te blaas, het brig. Billy Jones, kommunikasiehoof van die Vrystaatse polisie, by navraag gesê.
Vier ander regses wat glo ook deel van dié komplot was, moet weer op 25 Maart in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Hulle is op Versoeningsdag verlede jaar in hegtenis geneem omdat hulle na bewering deel van die komplot was om ’n eetsaal van die hooggeplaastes op die ANC se Mangaung-leierskonferensie in Bloemfontein op te blaas.
’n Alternatiewe plan was glo om ANC-hooggeplaastes op kort afstand dood te skiet.
Van dié vier is net Hein Boonzaaier (50) van Centurion laat verlede week op borgtog van R80 000 vrygelaat.
Die aansoeke om borgtog van Martin Keevy (47) van Bloemfontein, Johan Prinsloo (49) van Mookghopong (Naboomspruit) en Mark Trollip (49) van Douglas het misluk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA