Boer met sy broek verwurg
2010-12-17 22:41
- Beeld
Johannesburg - 'n Bejaarde boer en sakeman van Badplaas in Mpumalanga is Vrydag in die vroeë oggendure in sy plaashuis met sy eie sweetpakbroek verwurg.
Daarna het die moordenaars sy vrou in haar eie motor ontvoer en haar gedwing om geld te trek.
Nadat hulle ’n ongeluk met die motor gemaak het, het hulle weggehardloop en haar alleen by die wrak gelos.
Tolstoi Schoeman (86) en sy vrou, Güdryn (65), is kort ná middernag op die plaas Vygeboom in hul bed oorval.
’n Deurmekaar slaapkamer en bloedspatsels oral in die kamer dui daarop dat Schoeman, ’n tengerige man, verbete teen sy aanvallers geveg het.
Die twee aanvallers het hom later oorrompel, sy hande agter hom vasgebind, sy voete vasgemaak en hom verwurg.
Die moordenaars het voortdurend geld en wapens gevra.
Die moordenaars het me. Schoeman in haar Honda Jazz na ’n kitsbank in Machadodorp geneem waar hulle haar gedwing het om geld te trek.
Die moordenaars, van wie een met ’n panga en die ander met ’n mes gewapen was, het toe met haar in die rigting van Carolina gejaag.
Sowat 5 km buite die dorp op die pad tussen Carolina en Breyten het die voertuig gerol.
Die moordenaars het weggehardloop.
By die polisie se aankoms by die ongelukstoneel het die beseerde me. Schoeman vir hulle van die plaasaanval vertel.
Die moordenaars het deur die agterdeur by die huis ingekom.
Daar was geen teken van ’n inbraak nie.
Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die moordenaars ’n duplikaatsleutel gehad het.
Volgens kapt. Pottie Potgieter, ondersoekbeampte, vermoed hulle dat iemand wat die Schoemans goed ken, moontlik inligting oor die egpaar se doen en late aan die moordenaars gegee het.
“Hulle het presies geweet waar die sleutels van die motors versteek was,” het Potgieter gesê.
Past. Eric Krikke, die Schoemans se buurman, het gesê: “Hy was die mees skadelose man wat ek nog ooit geken het.
“Hy boer al 46 jaar op die plaas en het die dorp oor die jare help opbou van die klein vakansiedorpie wat dit was tot die woelige dorp wat ons nou ken.”
Me. Schoeman is ná die ongeluk aanvanklik in die Carolina-hospitaal behandel.
Vriende het haar toe na die Barberton Medi-Clinic geneem waar sy opgeneem is.
“Sy sukkel nog om die voorval te verwerk, maar haar gemoed is soos ons haar ken, baie sterk en positief,” het Krikke gesê.
Die polisie het mense met inligting oor die moord of die daaropvolgende ongeluk gevra om Potgieter by 0?082?269?4409 te kontak.
- Beeld