Boer met dagga, porno en vuurwapen betrap
2010-08-26 11:39
Kimberley. – ’n Boer van Warrenton het gister in die landdroshof hier op aanklagte van die verspreiding en besit van dwelms, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, geldwassery en die besit van kinderpornografie verskyn.
Die polisie het altesaam 280 foto’s en vyf video’s van kinderpornografie op Jurgen Human, op wie se plaas hulle verlede jaar toegeslaan het, se rekenaar gekry.
Dit is die eerste geval in sy soort in die Noord-Kaap waar die polisie op ’n plek toeslaan waar dagga na bewering verbou, verwerk en versprei word. Die polisie het op verskeie artikels beslag gelê en daggaplante in houers is uitgebrand.
Human het gister skuld ontken op aanklagte van die verspreiding van dwelms en die besit van kinderpornografie. Hy het skuld beken op die besit van dwelms, ammunisie en ’n vuurwapen.
Ivan Rosenstein van Bellville, David Baadjies, Masaram Fortuin en Lettie Baadjies, al drie werkers van Human, word saam met hom aangekla van die besit en verspreiding van dwelms. Al vier het skuld ontken.
Ao. Marius van Niekerk, ondersoekbeampte, het getuig hoe die polisie op 16 Februarie 2009 op Human se plaas toegeslaan het. Dié plaas is ongeveer 8 km buite Warrenton.
Human het twee daggaplantasies aan albei kante van die woonhuis aan die polisie uitgewys. Die bome in die een plantasie was tussen 2 en 3 m hoog.
Swart pype is na die bome aangelê en drupbesproeiing is ook aangebring.
Die polisie het op swart goiingsakke, kompos, ’n blou tou, wat gebruik is om die bome regop te hou, en ’n klein skêrtjie afgekom.
Van die boomstamme was met kondoom-pakkies, waarop geskryf is, gemerk. Die bome was onderskeidelik “Stinkie”, “Widow Herer” en “Kali Mist” gemerk.
Daggaplante in potte is ook tussen bosse op die plaas versteek.
Van Niekerk het getuig hy vermoed dié plante is eers in ’n kweekhuis gekweek voordat dit in die houers geplant is.
Ricky Ishmael, Human se regsverteenwoordiger, het gesê Human het nie dagga versprei nie. Hy het dit wel gerook. Hy het sy inkomste deur veeboerdery gemaak.
Human het mettertyd ’n belangstelling in die kweek van dié plante ontwikkel. Hy was lief vir tuinmaak en het die boompies gekoester.
Hy was ’n alleenloper en deur dagga te rook, het hy nuwe vriende gemaak. Nadat hy in hegtenis geneem is, het hy al sy vriende verloor.
Human het die vuurwapen vir ’n oom van hom in sy kluis gehou. Die ammunisie is van die dae wat hy in die weermag was.
Die verhoor is gister uitgestel nadat die hofgebou weens die staking van staatsdienswerkers ontruim is.
- Volksblad