Boer in vlak graf met klippe doodgegooi
2011-08-02 08:07
MJ Lourens en Jana van der Merwe
Reitz – ’n Boer is hier in nóg ’n wreedaardige plaasaanval lewend, met sy hande en voete vasgebind, in ’n vlak graf buite die opstal gedwing en toe glo met groot klippe doodgegooi.
Thinus Uitenweerde (55) se lyk is Maandagoggend ná ’n soektog deur die polisie op die plaas Aliesrust in ’n vlak graf naby die opstal gevind, terwyl sy ma en vrou ná minstens 20 uur van hel uit die huis gered is.
Sy vrou, Magriet, wat in haar onderlyf verlam en bedlêend is, en sy 85-jarige ma, Bella, is deur die polisie in hul plaashuis gekry.
Die aanvallers het Sondag reeds om 13:00 op die plaas aangekom.
Die bejaarde mev. Uitenweerde is in die aanval deur die twee jong aanvallers rondgepluk, vasgebind en verder aangerand. Haar verlamde skoondogter is nie beseer nie.
Albei die vroue is ná die vreesaanjaende ervaring in die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem opgeneem.
Twee tieners, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, wat albei in die verlede vir die gesin los werkies gedoen het, is enkele ure nadat die lyk van mnr. Uitenweerde gekry is, in die woonbuurt Petsana aangekeer.
Twee selfone, ’n hoëtroustel en die vermoorde se beursie is in hul besit gekry.
Mnr. Uitenweerde se seun Martin, wat op Bethlehem bly, het Maandag omstreeks 03:00 ’n oproep van sy pa se selfoon gekry. Toe hy antwoord, het niemand egter gepraat nie.
Hy het sy pa se nommer weer gebel. Die eerste keer het niemand geantwoord nie. Daarna was die selfoon afgeskakel.
Martin het omstreeks 05:00 probeer om sy ouma te bel. Toe het ’n vreemdeling haar foon geantwoord en die foon doodgedruk.
Uitenweerde jr. het die polisie gebel.
Die Bethlehemse honde-eenheid is dadelik na die plaas en het ook die polisie op Reitz ontbied.
Toe Uitenweerde jr. later op die plaas opdaag, was die polisie reeds daar.
Hy het gehoor hoe sy ma uit die huis om hulp roep.
Sy pa was steeds vermis.
’n Polisieman het selfs in die yskoue spruit naby die huis na die vermiste Uitenweerde sr. gesoek.
Sy lyk is laatoggend sowat 100 m van die huis in ’n vlak graf by ’n murasie gekry. Die moordenaars het die graf met blare en stokke bedek.
Van die groot klippe uit die murasie is vermoedelik gebruik om sy agterkop te verbrysel.
Sy voete was vasgebind met ’n swart veter, sy hande met ’n nylontou en sy mond was met ’n serp toegebind.
Uitenweerde jr. het in trane uitgebars toe die polisie vir hom sê hulle het sy pa se lyk gekry.
“My pa was ’n mens op sy eie – ’n behulpsame man. Hy sou enigiemand help as dit vir hom moontlik was.”
Die vermoorde mnr. Uitenweerde se oudste seun Henri, van Bloemfontein, sê hoewel hy oor die jare sy pa min gesien het, kan hy nie glo dat enigiemand hom ooit sou wou leed aandoen nie.
Hy sê sy pa het nog nie sy enigste kleinkind, Ethan, van nege maande ontmoet nie.
Hy sê hul pa het die afgelope jare nie groot geboer nie, maar die grond op dié familieplaas verhuur.
Boere wat Maandag op die toneel was, was uiters geskok.
Nicolaas Lourens van Boomplaas het vertel hy ken een van die vermeende moordenaars goed. Sy pa werk by hom op die plaas.
Lourens sê dié soort voorvalle haal die harmonie uit boerdery.
“Mense sê werkloosheid is die oorsaak van misdade soos dié, maar kyk wat het hier gebeur. Hierdie was weerlose mense wat nie eens ’n vlieg skade sou aandoen nie.
“Dit voel asof die boodskap nie sterk genoeg deurkom nie.”
Mnr. Uitenweerde se jongste seun, Cobus (16), is ’n leerling aan die Böhmer-skool in Bloemfontein.
Magriet Uitenweerde is die seuns se stiefma.
Hul eie ma, Rina, het Maandag van Bloemfontein na Bethlehem gery om haar seun te ondersteun.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad