Boer in stryd met staat oor grond
2011-11-03 14:30
Johannesburg – “Ek weet nie waar om met die storie van dié plaas te begin nie. My hart het regtig op daai plek seergekry,” vertel Whiskey Kgabo.
Kgabo het die afgelope week ’n skamele aanbod van R765 000 vir sy mangoplaas van 65 ha in die Trichardsdal-omgewing ontvang. Hy het die plaas in 1992 gekoop en dit is in Oktober 2008 beset. In Maart 2005 het Kgabo twee ander plase as deel van die Sekororo-grondeis verkoop.
Skokkende aanbod
Hy sê die aanbod was vir hom ’n groot skok, want volgens ’n waardasie wat kort voor die besetting gedoen is, is dit R2,6 miljoen werd.
“Hulle het die aanbod met R440 000 verhoog. Toe sê ek steeds nee, ek wil die jongste waardasie sien.” Ná ’n groot gestoei het die departement vir hom net die laaste bladsy van die waardasiedokument gestuur, waarop die bedrag as R1,5 miljoen aangedui word.
Kgabo is 14 dae gegee om op die laaste aanbod van R1,5 miljoen te reageer. “Ek is baie moedeloos. En ek vra raad, van enigiemand, oor hoe ek die verdere R1 miljoen wat nog kort, gaan kry.”
Kgabo sê toe hy vra hoekom die plaas eers drie jaar ná dit beset is, gewaardeer is, het die grondeisekommissaris in Limpopo net sy skouers opgetrek.
“Dis nie ek wat die plek so verwaarloos het nie. Ek het dit in ’n uitstekende toestand gelos, maar hulle wil hê ek moet minder aanvaar omdat die ander mense nie na die plaas gekyk het nie.”
– Lees meer by Landbou.com
– Volg Nuus24 op Twitter