Boer in hof wat van moord verdink word
2011-12-12 17:54
Johannesburg – ‘n Boer van Limpopo wat van moord verdink word het Maandag in die Groblersdal-landdroshof verskyn op aanklag daarvan dat hy twee van sy werkers aangerand het, het die polisie gesê.
Die man het na bewering sy honde op een van sy vroulike werkers gesit en ‘n ander werker geklap, het kol. Ronel Otto gesê.
Die saak is tot 30 Januarie uitgestel, wanneer die boer ook op aanklagte van moord en poging tot moord sal verskyn.
Hy het na bewering ‘n tiener doodgeskiet en ‘n ander gewond nadat hulle in Oktober op sy plaas visgevang het.
Die 57-jarige het na bewering met sy haelgeweer op die seuns geskiet. Hy het ‘n 14-jarige seun in die kop getref en ‘n 17-jarige seun in sy linkerhand.
Die boer het die twee gewonde tieners na ‘n hospitaal geneem, waar die 14-jarige dood verklaar is. Die ander seun is behandel en ontslaan.
Die boer is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Volgens Otto het sowat 500 betogers Maandag buite die hof saamgetrek. Hulle het betoog teen die feit dat hy op borgtog vrygelaat is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA