Boer in hof oor kinderpornografie
2011-07-20 08:00
Kimberley - Kinderpornografie is enige pornografiese voorstelling van iemand onder die ouderdom van 18.
Dit sluit in verwysings soos “daddy’s little girl” en advertensies wat pornografie van tieners bemark.
Só het ao. Tommy Deetlefs, van die polisie hier, Dinsdag in die landdroshof getuig in ’n kinderpornografie-verhoor waarby honderde pornografiese foto’s betrokke is.
Jurgen Human, ’n boer van Warrenton, is aangekla van die besit van 1881 foto’s met volwasse pornografie, 98 met tienerpornografie en 253 van vermoedelik kinderpornografie.
Hy het skuld op dié aanklagte ontken.
Hy het wel vroeër skuld op aanklagte van die besit van dwelms, ammunisie en ’n vuurwapen erken.
Human het na bewering dagga op sy plaas verbou, verwerk en versprei.
Deetlefs het gesê verskeie foto’s op Human se rekenaar was kinderpornografie.
Dit sluit in foto’s van webtuistes met die name “teengardens”, “teensexmoves” en “littlemut”.
Ricky Ishmael, Human se regsverteenwoordiger, het aangevoer Human het elke webtuiste se vrywaring besoek waar daar aangedui is geen van die meisies wat in die video’s en of foto’s voorgestel word, is jonger as 18 nie.
Deetlefs het gesê alhoewel hy nie self die webtuistes besoek het nie, omdat hy homself dan aan kinderpornografie sal skuldig maak, dit nie bewys kan word dat die vrywarings wel vrywarings van die spesifieke webtuistes is nie.
Hy het gesê Human kon dié vrywarings self gewysig het en dan in ’n .pdf-formaat geberg het.
Ivan Rosenstein van Bellville en drie werkers van Human, David Baadjies, Masaram Fortuin en Lettie Baadjies, is saam met hom aangekla weens die besit en verspreiding van dwelms.
Al vier het skuld ontken.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad