Boer in agterkop geskiet
2011-10-13 07:03
Polokwane – ’n Boer van Limpopo se bebloede lyk het minstens agt uur lank op die grasperk voor sy huis gelê.
Douw Brummer (50) van die plaas Goedgedacht in die Dwaalboom-gebied is Dinsdagaand in die agterkop geskiet.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê werkers van Brummer het eers Woensdag omstreeks 06:00 op sy lyk afgekom, berig Jody Nel.
Dit is onbekend presies hoe lank hy dood was voordat sy lyk ontdek is.
Brummer is geskei, kinderloos en het alleen op die plaas naby die Botswana-grens gebly.
Mnr. Pieter Roets, veiligheidsverteenwoordiger van TLU SA Noord in die gebied, het gesê dit lyk of die moordenaars Brummer ingewag het.
“Dit was ’n koelbloedige moord,” het hy gesê.
Roets het gesê daar is al twee keer vantevore by Brummer ingebreek. “Hy het onlangs aan sy bure ’n foto van ’n man gewys en gesê as hy iets sou oorkom, moet hulle weet dit is die man op die foto (wat hom leed aangedoen het).” Die foto is aan die polisie gewys. Volgens Roets is dit nie ’n werker van Brummer nie.
Brummer het Dinsdag omstreeks 22:00 op die plaas aangekom nadat hy beeste vir ’n veiling gaan aflewer het.
Werkers het toe glo sy voertuig se dreuning gehoor.
“Hulle het gesê hulle het ook ’n harde slag gehoor,” het Roets gesê. Brummer het uit die vragmotor geklim en was op pad om oor die grasperk na die huis te loop toe hy van agter in die kop geskiet is.
Die aanvallers het sy sleutels gevat en die huis oopgesluit.
Otto het gesê hulle het ook die kluis in die huis oopgesluit en wapens gevat.
Brummer se selfoon is ook gesteel. Roets het gesê die selfoonsakkie is van sy gordel afgesny.
Dit is onduidelik wat nog uit die huis gesteel is.
Gaven Holden-Smith van ’n private spoorsnyersmaatskappy het gesê baie van die verdagtes se voetspore om die huis was gister nie meer duidelik sigbaar nie. Hy en ’n groep spoorsnyers van die gebied het saam met die polisie die gebied om die plaashuis gefynkam.
Brummer is in die Dwaalboom-gebied gebore en was welbekend. Hy het met beeste en wild geboer.
Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld