Boer eis duisende van staat ná aanval
2010-12-01 09:10
Volksblad
Kimberley – ’n Boer van Richmond, wat drie jaar gelede na bewering ernstig deur twee plaaswerkers in sy plaashuis aangerand en boonop strafregtelik vervolg is, eis byna ’n halfmiljoen rand van die minister van polisie en die nasionale direkteur van openbare vervolging.
Piet Schrooder (67) van die plaas Wolwekraal, Richmond, het die gesamentlike eis weens onregmatige inhegtenisneming en aanhouding (R150 000) en kwaadwillige vervolging (R319 904,80) ingedien.
Volgens die besonderhede van vordering kom die eis nadat Schrooder op 30 Oktober 2007 na bewering sonder ’n lasbrief op Richmond in hegtenis geneem is.
Die inhegtenisneming het Schrooder se eer en waardigheid aangetas. Hy het sielkundige trauma ervaar. Hy het algemene skade van R150 000 gely waarvoor die polisie aanspreeklik is.
Op 15 Mei 2008 het lede van die direktoraat van openbare vervolging (DOV) in die Noord-Kaap kwaadwillig en onregmatig die regsproses in werking gestel om opdrag aan ’n aanklaer te gee dat Schrooder in die streekhof op ’n aanklag van poging tot moord (op die plaaswerkers) vervolg word.
Hiervoor is die DOV vir skadevergoeding van R319 904 aanspreeklik.
Schrooder is op 12 Desember 2008 op die aanklag van poging tot moord onskuldig bevind.
Schrooder het in ’n verklaring gesê hy het Saterdag 13 Oktober 2007 omstreeks 18:00 ’n geraas buite die plaashuis gehoor. Toe hy die sifdeur oopmaak, het hy twee mense op die grasperk gewaar.
’n Sprinkelbesproeier is na hom gegooi. Hy het een skoot bokant hul koppe afgevuur. Hy het ’n slaappil gedrink en gaan slaap. Sy rewolwer was op die bedkassie.
In die nag het Schrooder wakker geskrik. Hy het die plaaswerkers Karel Peer en Stefanus Januarie voor die bed gewaar. Karel het vyf skote met Schrooder se rewolwer afgevuur.
Die twee werkers het hom geskop en geslaan. Hulle het gevlug toe hy die rewolwer gryp.
’n Ernstig beseerde Schrooder het tot die volgende oggend op die bed gelê. Hy het toe ontdek 37 ruite is uitgeslaan. Die huis was in ’n warboel. Sowat R500, ’n halfdosyn tjekboekblaaie en sy Toyota Hilux-bakkie was weg.
Luidens die dokter se verslag het Schrooder verskeie skaafwonde, kopwonde, kneusings en dieper wonde opgedoen wat by geweld en aanranding inpas.
Die verdagtes is in hegtenis geneem, maar die klagte van poging tot moord en huisbraak en diefstal teen hulle is later teruggetrek.
’n Klag van poging tot moord is teen Schrooder ingedien.
Harry Rich, Schrooder se prokureur, het gister in kruisondervraging getuig Schrooder kon weens sy beserings nie in ’n polisiesel geplaas word nie.
Schrooder is wel in opdrag van die aanklaer op 30 Oktober 2007 van 08:00 tot 12:30 in die polisiekantoor en selle by die landdroskantoor op Richmond aangehou voordat hy op borgtog vrygelaat is.
Op 14 Mei 2008 het die DOV vir Schrooder in kennis gestel dat hy vervolg word.
Rich het later verneem die aanklagte teen die twee plaaswerkers is teruggetrek.
Rich was Schrooder se regsverteenwoordiger toe hy op 12 Desember 2008 in die streekhof vrygespreek is.
Adv. Sharon Erasmus tree in opdrag van Len Coetzee van Kimberley vir Schrooder op.
Adv. N. Gaisa tree in opdrag van die staatsprokureur vir die twee verweerders op.
- Volg Nuus24 op Twitter. Kliek hier.
- Volksblad