Boer beroof – drie in hegtenis
2011-08-25 21:04
Johannesburg – Drie mans is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ‘n man op sy plaas in Dullstroom, Mpumalanga, beroof het, het die polisie gesê.
Vyf mans met klapmusse het die plaas in die oggend betree en die eienaar gedwing om die kluis oop te maak, het lt. kol. Leonard Hlathi gesê.
Hulle het ‘n onbekende hoeveelheid kontant, juweliersware en selfone gesteel voordat hulle in twee motors gevlug het.
Een van die voertuie het teen ‘n vragmotor in Belfast gebots toe die rowers probeer het om die polisie, wat hulle agternagesit het, te ontglip, het Hlathi gesê.
Die mans is in die hospitaal opgeneem vir behandeling en ‘n paar uur later ontslaan.
Hulle sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn op aanklag van huisroof. Twee medepligtiges is steeds op vrye voet.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA