Boer ná 13 jaar vry
2010-11-18 09:46
Beeld
Johannesburg - ’n Boer naby Wolmaransstad is Dinsdag in die plaaslike landdroshof onskuldig bevind op aanklagte van onder meer poging tot moord, 13 jaar ná die voorval wat tot die saak gelei het.
Die boer, Franz Marx (47), het Woensdag gesê hy is uiters verlig dat die saak eindelik afgehandel is. “Dit was vir my baie sleg, want ek het ’n hoë profiel in die gemeenskap.”
Marx was bevelvoerder van die Wolmaransstad-kommando toe die voorval gebeur het. Hy is ook voorsitter van die Wolmaransstad-boerevereniging.
Volgens Willie Nieuwoudt, sy prokureur, het die hof Dinsdag bevind Johannes Thole en George Nduli, die klaers, se getuienis was so wisselvallig, weersprekend en onbetroubaar dat peil nie daarop getrek kan word nie. Die hof het Marx se weergawe aanvaar dat hy in noodweer opgetree het.
Hy het gesê die saak teen hom was van die begin af so twyfelagtig dat die staat sedert 1997 drie keer daarteen besluit het om hom te vervolg. Vanjaar het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit om die saak wel weer te ondersoek.
Marx het destyds inligting gekry dat daar mans op sy plaas is wat vermoedelik van plan is om ’n plaasaanval uit te voer.
“Ek het die drie met ’n sak met goedere op my plaas sien stap ... Toe hulle my sien, het hulle die sak neergegooi. Een het my met ’n klip geslaan en die ander het my met klippe gegooi.
Ek het hulle met my pistool geslaan om myself te verdedig. Een van hulle het in ’n gat geval. Hy het kopbeserings opgedoen, maar ek kon nie beserings aan die ander een sien nie. Die derde man het weggehardloop.”
Volgens Marx het hy die twee oorblywendes gearresteer en polisiekantoor toe geneem. Hy het klagte van onder meer betreding, poging tot diefstal en aanranding aanhangig gemaak, maar niks het daarvan gekom nie.
Dit het later geblyk die drie wou diamante op die plaas delf. Hulle was sogenaamde pankrappers en hul toerusting was in die sak wat by hulle gevind is.
Die twee klaers het later beweer Marx en ’n klompie ander mans het hulle op ’n plaaspad in ’n bakkie voorgekeer.
Terwyl Marx hulle glo met ’n pistool aangehou het, het die ander hulle aangerand. Later weer het die klaers beweer hulle kon nie onthou wat gebeur het nie.
Volgens Nieuwoudt het die mediese getuienis in die hof nie ooreengestem met wat die twee klaers oor hul beserings beweer het nie.
“Hulle het ... van hul polisieverklarings afgewyk en hulself en mekaar weerspreek.”
Marx is ook vrygespreek op aanklagte van die rig van ’n vuurwapen en regsverydeling.
- Beeld