Boer (75) oorleef skoot in die nek
2011-07-22 07:02
Noordwes – ’n Bejaarde boer van Ventersdorp in Noordwes het Donderdag feitlik ongedeerd daarvan afgekom toe rowers hom in die nek geskiet het.
Koos Conroy (75) het net ’n vleiswond opgedoen en was Donderdagmiddag reeds tuis, het me. Jeanette Kleyn, ’n familielid en eienaar van die plaaslike koerant, Nuus@Ventersdorp, vertel.
Conroy het ’n uur voor die aanval oudergewoonte Bybel gelees voordat hy na sy beeste is. Volgens Kleyn het die Bybel Donderdagoggend “oopgeval” op ’n Psalm waarvan die strekking was dat “niks met jou sal gebeur as God se genade met jou is nie”.
Volgens Kleyn het die rowers Conroy se vrou, Frances (70), Donderdag omstreeks 07:00 in die egpaar se huis op die plaas Leeukraal, sowat 10 km buite Ventersdorp, oorval. Mnr. Conroy was toe nog by sy beeste.
Vyf rowers het mev. Conroy hardhandig behandel en rondgestamp, vasgebind en gevra waar die kluis is. “Hulle het nie ’n kluis nie en sy het haar silwerkissie met juwele aan hulle gegee,” het Kleyn vertel. “Hulle het dit oopgebuig, haar pêrels gevat, dit in haar gesig gegooi en gesê hulle soek die kluis.”
Mnr. Conroy het intussen teruggekom van die beeste.
“Twee van die rowers het hom uit sy bakkie gepluk,” het Kleyn vertel. “Die een het ’n mes gehad en die ander een ’n rewolwer. Terwyl my oom gekeer het, is sy hand met die mes gesny. Toe skiet hulle hom in die nek.”
Die rowers het mnr. Conroy ook vasgebind en albei die bejaardes se monde met maskeerband toegeplak.
Twee familielede het toevallig op die plaas opgedaag. Volgens Kleyn het die rowers vermoedelik geskrik toe hulle die voertuie hoor en weggehardloop. “My neefs het hulle met ’n bakkie agternagesit, maar dit het in die modder vasgeval en die rowers het weggekom.”
Die polisie was gou op die toneel en het helikopters en polisiehonde ingespan om die rowers te soek.
“Die polisie het tannie Frances se selfoon en die pistool waarmee oom Koos geskiet is onder ’n boom begrawe gekry nadat hulle die selfoon gebel en hoor lui het. ’n Geldsakkie met R500 se silwermunte is aan ’n draad gekry en kledingstukke in die veld.”
Sers. Karen Tredoux, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek sake van poging tot moord en gewapende roof.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld