Boelies ál groter probleem
2012-07-07 16:00
Johannesburg – Ongeveer 28% van Suid-Afrikaanse skoolkinders en hulle ouers is bekommerd oor boelies, het 'n nuwe meningspeiling getoon.
"Die relatiewe hoë voorkoms van boelies wys daar is 'n probleem in baie skole, en dis duidelik dat dié probleem getakel moet word," het navorsers gesê.
Die meningspeiling, wat Vrydag gepubliseer is, is deur die groep Pondering Panda met behulp van selfone onder 5 183 leerders en hul ouers gedoen.
Die meningspeiling toon 38% van wit leerders sukkel met boelies, teenoor slegs 24% van swart leerders.
'n Bietjie meer as 'n vyfde van leerders meen 'n gebrek aan betrokkenheid van ouers is 'n probleem, wat daarop dui dat ouers dit nie net kan "los vir onderwysers" nie.
"n Bietjie meer as 'n kwart van studente het gesê daar is nie genoeg behoorlike toilette by skole nie en dieselfde persentasie het gesê daar is te veel leerders per klaskamer.
"Oorvol klasse en 'n gebrek aan behoorlike toilette dui op die nodigheid vir noemenswaardige beleggings in die opgradering van infrastruktuur by skole," het Butch Rice, woordvoerder vir die groep, gesê.
Sowat 11% van leerders en ouers meen onderwysers wat laat kom vir klas is 'n probleem. Dié syfer is egter 6% hoër in die Limpopo-provinsie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA