'Boelie-moordenaar' in hof
2012-11-22 12:35
Johannesburg – 'n Oosrandse gr.11-leerder sal binnekort in die Vosloorus-landdroshof verskyn nadat hy na bewering ‘n medeleerling, Nkululeko Ndlovu, in ‘n klaskamer doodgeskiet het, het die polisie gesê.
“Hy sal vandag in die hof verskyn op ‘n aanklag van moord en ‘n aanklag van die onwettige besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen,” het kapt. Pinky Tsinyane gesê.
Charles Phahlane, woordvoerder vir die departement van onderwys in Gauteng, het vroeër gesê die leerder aan die Phineas Xulu Sekondêre Skool het sy ma se vuurwapen skool toe gebring en Ndlovu, wat hom na bewering geboelie het, doodgeskiet.
Phahlane het gesê die leerder se ma is 'n metropolisiebeampte en die seun het haar dienspistool gebruik om sy medeleerling dood te skiet.
"Die gr.11-leerder is na bewering herhaaldelik deur 'n gr.10-leerder [Ndlovu] en twee ander seuns geboelie...”
Die seun het Ndlovu na bewering doodgeskiet toe hy en sy vriende hom vroeër die week in 'n klaskamer gekonfronteer het.
Intussen het The Star berig die meeste leerlinge by die skool is “verlig” dat die boelie dood is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA