Boekhouer tronk toe ná diefstal van meer as R1m.
2011-09-22 09:08
Bethlehem – ’n Boekhouer van Kestell wat meer as ’n miljoen rand van haar werkgewers gesteel het, is Woensdag hier in die streekhof ses jaar tronkstraf opgelê, waarvan twee jaar opgeskort is.
Elzarie Heyns (33) se aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis is toegestaan en sy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Sy het op 11 April skuld erken op 136 aanklagte van diefstal nadat sy oor drie jaar altesaam R1 010 731,44 van die beslote korporasies WM Siviele Konstruksie en Wamesa Siviele Konstruksie op Kestell gesteel het.
Sy het vir hulle as boekhouer gewerk.
Streeklanddros Phillip Visser het Woensdag met vonnisoplegging gesê hy neem haar omstandighede, soos dat sy die ma van vier kinders op skool is, in ag.
Sy het egter berekenend oor die drie jaar gesteel, wat daarop wys dat dit nie uit nood was nie, maar bloot om haar inkomste aan te vul en gemaklik te lewe.
Visser het haar vier jaar tronk toe gestuur en haar nog twee jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat sy nie weer sal geld steel nie.
’n Aansoek om verlof tot appèl deur haar prokureur, Clem Harrington sr., is toegestaan.
Sy moet binne 14 dae aansoek doen om teen haar vonnis te appelleer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad