Boek bevind Fred weer onskuldig
2010-05-16 06:54
Johannesburg - Die omstrede nuwe boek oor die moord op die Matiestudent Inge Lotz sal
ondersteuners van haar eertydse kêrel, Fred van der Vyver, baie tevrede
laat, en laat die staatsaanklaers taamlik sleg lyk.
Die boek,
Fruit of a Poisoned Tree deur Antony Altbeker, is van vandeesweek af op
die rakke, en sal ondersteuners van Van der Vyver baie tevrede laat.
Die
skrywer verskaf ’n gedetailleerde weergawe van die opspraakwekkende
hofsaak, en fokus sy aanvalle op die aanklaers (spesifiek adv. Carien
Teunissen) en die polisie veral op twee aspekte.
Die eerste is
die polisie se hantering van forensiese getuienis, veral die beweerde
vingerafdruk op ’n DVD-houer en ’n beweerde bebloede skoenmerk uit die
vermoorde se badkamer.
Die tweede is die aanklaers se onvermoë om
die beskuldigde op die moordtoneel te plaas ten tyde van die moord.
Die
boek word aangebied in die tradisie van “nuwe joernalistiek”, in die
voetspore van Truman Capote se meesterstuk, In Cold Blood.
Groot
dele van die boek bestaan uit gedetailleerde weergawes van die
hofgebeure, hoewel twee stukke getuienis teen die beskuldigde, deur
Marius Botha en Wimpie Bischoff, byna glad nie behandel word nie.
Daar
is baie, en hoogs verpersoonlikte, kritiek op die aanklaers en byna
geen op die verdediging nie.
Van der Vyver het ’n uitstekende
indruk op die skrywer gemaak, en word geloof om sy selfbeheersing,
terwyl baie simpatie met sy omstandighede betuig word.
Die
skrywer gee in die teks toe dat hy van die begin af slegs met die
verdediging kontak gehad het, en bedank daardie regspan (wat baie goed
uit die boek kom) vir hul vriendelikheid.
Die kern van die boek
is die gegronde kritiek dat die verdediging en die polisie hulle nie
genoegsaam aan die streng bewysbare waarheid gehou het in hul denke oor
die saak nie.
Dit weerhou die skrywer nie daarvan om self
omvangryke gevolgtrekkings oor die gebeure te maak nie.
Hiervan kan
veral twee voorbeelde vir omstredenheid sorg.
Die eerste is die
klem wat geplaas word op die polisie se ongeloof oor die (deurgaans
veranderende) getuienis van ’n tikgebruiker, Werner Carolus, se
aansprake oor die moordtoneel.
Die tweede is sy mening dat die
polisie Van der Vyver geteiken het omdat hy Lotz uit die NG Kerk na
Stellenbosch se His People-kerk sou wou laat skuif.
Die teikening
word gekoppel aan ’n verdediging van die Afrikaner-establishment deur
mense wat onseker voel nadat die Afrikaner politieke mag verloor het.
-
Fruit of a Poisoned Tree word deur Jonathan Ball Publishers uitgegee.
- Rapport