Bloulig-tiener uit waakeenheid
2011-11-24 14:11
Johannesburg – Die 18-jarige matriekleerling van Krugersdorp wat na bewering deur 'n ampsvoertuig omgery is, is uit die waakeenheid na 'n ander saal verskuif, het die Demokratiese Alliansie Donderdag gesê.
"Hoewel hy nog nie sy bewussyn herwin het nie, toon hy tekens van bewustheid en is na 'n hoësorgsaal verskuif," het Jack Bloom, die DA se koukusleier in Gauteng, gesê.
Thomas Ferreira se toestand het "aansienlik verbeter" toe hy hom Woensdag in die hospitaal besoek het, het Bloom gesê.
Thomas se gesin wou nie met die media praat nie en die Krugersdorp Privaathospitaal het gesê hy kan nie kommentaar lewer nie.
Thomas, ’n leerling aan die Hoërskool Bastion, was op sy motorfiets na sy meisie se huis in Randfontein op pad toe hy getref is deur 'n blouligvoertuig wat na bewering 'n rooi verkeerslig verontagsaam het.
Die BMW is die ampsvoertuig van Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising.
Thomas het ’n gebreekte arm en been en verskeie gesigfrakture opgedoen. Hy het ook swelling en bloeding op die brein.
Die kantoor van Nomvula Mokonyane, Gautengse premier, het ná die ongeluk gesê Mmemezi was ten tyde van ongeluk in die motor.
Mokonyane se kantoor het aangebied om Thomas se mediese onkostes te betaal.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA