Bloulig-tiener terug op ventilator
2011-12-08 07:00
Johannesburg – Thomas Ferreira moes Woensdag weer aan ’n ventilator gekoppel word nadat hy langer as drie weke self kon asemhaal.
Thomas (18), ’n matriekleerling van Krugersdorp, het verskeie beenbreuke, onder meer gesigfrakture, opgedoen in die ongeluk wat hom meer as ’n maand gelede in ’n koma gelaat het. Sy sinusbene is gebreek en dít het nou probleme begin veroorsaak, het sy ma, Priscilla, gister gesê.
“Hulle gaan ’n sinusspoel doen, maar hy is ook terug op die ventilator. Hy het van kleins af gesukkel met ’n toe neus.”
Boonop het Thomas nou ook ’n ooginfeksie en ’n swam op sy tong, het Ferreira gesê.
Thomas is op 5 November op sy motorfiets omgery deur die bloulig-voertuig van Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising. Hy het erge kopbeserings opgedoen en is met swelling en bloeding op die brein in die waakeenheid van die Krugersdorp-hospitaal opgeneem. Volgens die uitslae van sy jongste breinskandering sal hy waarskynlik permanente breinskade oorhou en hy is steeds in ’n semi-koma.
Sy arm en been is gebreek en ’n staalplaat en -pen moes onderskeidelik in dié ledemate ingeplant word. Hy was aanvanklik sowat ’n week en ’n half aan die ventilator gekoppel.
As gevolg daarvan het hy dubbele longontsteking opgedoen, maar hy het daarvan herstel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld