Bloulig-tiener se skade lyk permanent ná botsing
2011-12-07 08:01
Johannesburg – Die Krugersdorpse matriekseun wat ’n maand gelede deur ’n bloulig-motor omgery is, het waarskynlik permanente breinskade opgedoen.
Paul Ferreira, Thomas (18) se pa, het Dinsdag aan Beeld gesê hulle het Maandag die uitslag van die jongste breinskandering ontvang.
“Die dokter sê dit lyk of hy permanente skade gaan hê.”
Dit is in dié stadium onmoontlik om die omvang van die skade te bepaal en watter uitwerking dit op Thomas se lewe gaan hê, het Ferreira gesê. Sy seun is steeds in ’n semi-koma.
Thomas is op 5 November op sy motorfiets getref deur die ampsmotor van Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising.
Nomvula Mokonyane, Gautengse premier, het drie dae ná die ongeluk gesê die provinsie sal Thomas se mediese koste dra. Die Ferreiras het teen gisteroggend nog nie meer inligting van haar kantoor ontvang nie.
Hul grootste bekommernis is Thomas se rehabilitasie, waarvan die maandelikse koste by sowat R100 000 begin, medisyne uitgesluit. Die gesin weet nie wie dié koste gaan dek nie.
Die polisie het die gesin Maandag ingelig oor hoe die ondersoek vorder nadat hulle ’n maand lank niks gehoor het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld