Bloulig-beswaardes gaan VN toe
2012-01-03 20:41
Johannesburg – 'n Groep aktiviste wat poog om ministers en ander hoës te verhoed om blou ligte op hul voertuie te gebruik, het die minister van vervoer daarvan beskuldig dat hy 'n petisie wat daarop aandring dat hy aksie teen dié bestuurders neem, ignoreer.
Howard Dembovsky, voorsitter van Justice Project SA (JPSA), het gesê die petisie, met 46 646 handtekeninge, is op 1 Desember by die kantore van die nasionale departement van vervoer afgelewer. Die minister, Sibusiso Ndebele, is tot 31 Desember gegee om op die petisie te reageer.
"As gevolg van sy [Ndebele] se versuim om aksie te neem is 'n brief geskryf en aan die Wêreldgesondheidsorganisasie by die Verenigde Nasies afgelewer, het Dembovsky gesê.
Tiyani Rikhotso, woordvoerder vir die departement van vervoer, het ontvangs van die petisie bevestig en aan die nuusagentskap Sapa gesê die minister sal later daarop reageer.
JPSA teken protes aan teen blouligbrigades ná 'n tiener van Krugersdorp, Thomas Ferreira, 18, ernstig beseer is toe 'n blouligvoertuig in November 2011 'n rooi verkeerslig verontagsaam het en hom getref het.
Ferreira herstel tans, maar het breinskade opgedoen.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA