Blommeverkoper-moordenaar ‘toon geen berou’
2010-09-20 14:21
Kaapstad - Die Kaapse blommeverkoper wat skuldig bevind is aan ‘n moord en twee rooftogte toon geen berou of spyt nie, het ‘n regter in die Hooggeregshof in Kaapstad Maandag gesê.
Gershwin Hartzenberg (23) het geen teken van emosie getoon terwyl hy geluister het na sy prokureur en ‘n aanklaer se betogings oor sy vonnissing nie.
Die staat vra vir lewenslange tronkstraf vir die moord op Jane van Zyl, wie Hartzenberg in haar kar buite haar huis in Bergvliet in April 2008 geskiet het voordat hy met haar handsak spore gemaak het.
Hartzenberg is ook skuldig bevind op twee klagtes van roof met verswarende omstandighede, asook die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Die naaste wat hy daaraan gekom het om enige emosie te toon tydens die oggend se verrigtinge was om vinnig sy kop te laat sak toe een van sy susters, Bonita Appolis, moes sluk aan die trane terwyl sy oor Hartzenberg se kinderdae getuig het.
Sy het gesê hy het die skool verlaat nadat hy standerd twee voltooi het, en dat sy ma dood is toe hy agt jaar oud was.
Sy pa (haar stiefpa) was ‘n dwelmverslaafde. Toe Hartzenberg jonk was het hy die kind as ‘n “draer” gebruik sodat hy die polisie kon ontglip.
Hartzenberg was teruggetrokke as kind en wou nie vrae antwoord in die skool nie.
“As jy iets uit hom wou kry, moes jy dit uit hom trek,” het Appolis gesê.
“Gershwin het grootgeword in ‘n huis waar sy ma elke twee minute ‘n blou oog gehad het. Gershwin het dit gesien. Maar nie een van my broers of susters, nie eens my ma, het gedink om iets daaraan te doen nie.
“Dit was nie reg vir hom om so groot te word nie.
Regter Siraj Desai sal Woensdag vonnis oplê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA