Blommeverkoper kry lewenslank
2010-09-22 13:00
Kaapstad - ‘n Kaapse blommeverkoper het gehuil nadat hy Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir die moord op ‘n vrou van die stad.
“Jy is nie ‘n moordenaar nie!” het bewoë familielede van Gershwin Hartzenberg (23) uitgeroep toe hulle hom in die beskuldigdebank omhels het voor hy weer teruggelei is na die aanhoudingselle.
“Hulle (die polisie) het nie hul werk gedoen nie… God is in beheer!”
Hartzenberg is daaraan skuldig bevind dat hy Jane van Zyl van Bergvliet in haar oprit, waar sy in haar motor was, die aand van 13 April 2008 doodgeskiet en met haar handsak gevlug het.
Hy is tot ‘n verdere 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die roof op die Nuweland-inwoner Linda Heeger in soortgelyke omstandighede, slegs ‘n maand voor die moord.
Hy is nóg vyf jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Regter Siraj Desai het gesê hy het Hartzenberg se haglike grootwordjare en die feit dat hy geen vorige oortredings gehad het nie in ag geneem, maar het gewys daarop dat Hartzenberg “geen berou toon nie” en dat sy daad van “absolute brutaliteit” ‘n enorme impak op Van Zyl se man, Smiley, gehad het.
Laasgenoemde moes sy vrou se lewensondersteuningsmasjiene by die hospitaal afskakel, het Desai gesê.
Mnr. Van Zyl het ná die hofverrigtinge aan verslaggewers gesê hy het gehoop op die maksimum tronkstraf, en dit is wat opgelê is.
“Niks sal Jane terugbring nie, maar die gereg het sy gang gegaan en ek moet dit aanvaar.”
Hy het gesê Hartzenberg se ouer suster, Bonita Appolis, het hom in die hof genader en gesê sy is baie jammer oor die dood van sy vrou, “wat ek geheel en al aanvaar.”
- SAPA