Bloedspoor lei na vrou se lyk in riooltenk
2011-11-26 11:38
Johannesburg – Die lyk van 'n 55-jarige vrou is in 'n riooltenk by die Mooikloof-kantoorpark in Pretoria-Oos gevind, het die Gauntengse polisie Saterdag gesê.
Denise Stratford is Donderdag as vermis gerapporteer ná sy die vorige aand nie huis toe gekom het nie, het kapt. Pinky Tsinyane gesê.
Haar motor was nie meer op die parkeerterrein nie.
Sekerheidswagte het bloed en patroondoppies by 'n parkeerplek gevind en die polisie Donderdagoggend daarvan in kennis gestel.
'n Bloedspoor het die polisie na 'n drein naby die gebou waar Stratford gewerk het, gelei.
Hulle moes die tenk leegtap om haar lyk te vind.
"Die werk om haar lyk te bereik het om 14:00 [Donderdag] begin en dis net voor middernag voltooi."
Die polisie het Vrydag 'n 23-jarige man in hegtenis geneem wat in besit was van Stratford se motor.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA