'Bloed sal vloei oor wet'
2011-11-28 08:00
Pretoria – Daar gaan bloed op die grond wees as daar nie weer na die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting gekyk word nie.
Dié waarskuwing het Sondag van Thobile Ntola, president van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), gekom.
Sadou verteenwoordig 256 000 onderwysers en is by Cosatu geaffilieer.
Sadou se algemene nasionale raad het die naweek buite Pretoria ’n konferensie gehou. Die tema was Organiseer en bemagtig onderwyswerkers om gratis gehalte-onderrig te gee en sosialisme te bou.
Ntola het ná die konferensie gesê daar moet weer na die voorgestelde inligtingswet gekyk word.
Volgens hom is daar begrip dat sekere inligting wat vir die land se veiligheid belangrik is, geheim gehou moet word. “Ons kan egter nie toelaat dat die wet korrupsie bedek nie.”
Hy meen die wetsontwerp in sy huidige vorm druis in teen die vryheid van spraak waarvoor mense soos Oliver Tambo en ander stryders hul lewe lank geveg het.
Ntola het harde woorde vir Sadou-lede gehad wat hulle ophou met skinderpraatjies en verdeeldheid wil saai.
“Ons kan dit nie bekostig dat mense hulle in verskillende kampe bevind nie.”
Hy het gesê die ANC-leierskap moet vertrou word.
Hy het voorts gesê onderwysers moet besef leerlinge is nie net statistieke nie. “In 2014 wil ons hê alle leerlinge moet slaag. Dis jul werk om hulle te onderrig en julle moet respek vir jul werk en gemeenskappe hê.”
Van die besluite wat die raad geneem het, behels dat die departement van basiese onderwys gemoniteer gaan word oor die voorsiening van infrastruktuur, leermateriaal en ondersteuning vir onderwysers.
’n Beroep is ook op die regering gedoen om meer te belê in die ontwikkeling van inheemse tale en om elke skool te verplig om die gebruik van ’n Afrika-taal uit te brei.
Die raad het die prestasie-beoordeling vir onderwysers in sy huidige vorm verwerp en gesê die Raad op Arbeidsverhoudinge in Onderwys (Ravo) moet ’n studie van die geïntegreerde gehalte-metingstelsel (IQMS) doen om die sterk en swak punte daarvan uit te wys.
Sadou is daarteen gekant dat onderwysers se beoordeling aan die prestasie van leerlinge gekoppel moet word.
’n Besluit is ook oor die skootrekenaarprojek geneem wat bepaal dat die onderwysdepartement die rekenaars vir onderwysers moet koop en dat dit dan hul eiendom word.
Die diensvoorwaardes van onderwysers is ook bespreek en Ntola het gesê daar sal geveg word om dit te verbeter, aangesien dit nog glad nie goed is nie. Hy het gesê onderwysers kry maar R800 se huissubsidie per maand. In sommige gevalle is daar van hulle wat aan die einde van die maand net R1 000 huis toe neem.
Die raad het hom ook daartoe verbind om sy ledevlakke teen volgende jaar uit te brei om tot meer as 70% van alle onderwyserpersoneel in die land te verteenwoordig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad