Blade ‘het nie mes in vir Afrikaans’
2010-02-19 08:19
Stellenbosch - Die regering het geen begeerte om Afrikaans as ’n taal van onderrig weg te doen nie, het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, Donderdagaand gesê.
Hy het tydens die inhuldigingseremonie van Johann Rupert as die 14de kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) gesê die regering se standpunt is nog deurgaans duidelik dat alle amptelike tale in Suid-Afrika, met inbegrip van Afrikaans, as ewe belangrik geag word, soos in die Grondwet gestipuleer.
“Ons taalbeleid vir hoër onderwys gee erkenning aan Afrikaans as ’n taal van geleerdheid en navorsing en stel dit baie duidelik dat dié taal as sodanig as ’n nasionale bate gehanteer en bewaar moet word.”
Waarteen die beleid wel beswaar maak, is die neiging om Afrikaans as ’n hindernis vir toegang vir nie-sprekers daarvan te gebruik.
Nzimande het gesê die US het al veel bereik in sy pogings om as een van die beste universiteite ter wêreld geag te word, en het transformasiepogings aangewend.
“Daar is egter steeds ’n uitdaging om jul inisiatiewe en prestasies te omskep in ’n institusionele kultuur wat volledig insluitend, divers en waarlik Suid-Afrikaans is.”
Rupert is in die Endlersaal van die Konservatorium ingehuldig. Die geleentheid is onder andere ook bygewoon deur die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, die minister in die presidensie, Trevor Manuel, en die US se rektor, prof. Russel Botman.
Rupert volg in die voetspore van dr. Frederik Van Zyl Slabbert.
Rupert het nie in sy intreerede op die veelbesproke taaldebat gefokus nie.
Dié sakemagnaat en sportweldoener het meer oor die belang van innoverende tegnologie en die toepassing daarvan in tersiêre instellings gepraat.
Volgens hom moet die US streef om die beste te wees, maar fokus behou om te oorleef. “Niemand kan die beste wees met alles nie. Daarom is fokus nodig. Dán kan besluit word waarin ons die beste sal wees.”
Hy het verwys na die koms van breëband-internetverbinding in die Wes-Kaap en die belangrike rol wat dit in onderrig sal speel.
Botman het Rupert opgesom as ’n veelsydige mens wat alles verteenwoordig waarvoor die universiteit staan.
“Dr. Rupert, jy is ’n seun van hierdie stukkie aarde genaamd Stellenbosch. Jy verteenwoordig alles waarvoor hierdie universiteit staan: ons visie, ons waardes en ons onwrikbare geloof in akademiese uitnemendheid.”
Rupert is onder meer voorsitter van Richemont, VenFin en Remgro.
Hy het as jong man ekonomie en maatskappyereg aan die US gestudeer, maar dit laat vaar vir ’n sakeloopbaan.
- Sapa