Bierbottel tref man noodlottig
2010-01-21 23:26
Johannesburg – ‘n 21-Jarige Malawiese man is op aanklagte van moord in Joubert Park in hegtenis geneem, het die Gauteng polisie gesê.
Volgens kapt. Bhekisizwe Mavundla het die polisie verlede week inligting ontvang dat ‘n 23-jarige man met ‘n bottel teen sy kop gegooi was.
Die paramedici het hom in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem, waarna die man op 17 Januarie gesterf het.
"Daar word beweer dat die verdagte by sy huis alkohol gedrink en sokker gekyk het. Hy het glo woedend geraak toe hy sien dat sy tuisspan verloor. Hy het op sy balkon gaan staan en sy bierbottel afgegooi," het Mavundla gesê.
Die slagoffer wat saam met twee ander vrouens in die pad geloop het, was teen sy kop getref.
Die slagoffer en die verdagte het nie mekaar geken nie.
Die man gaan Vrydag in die Johannesburgse-landdroshof verskyn.
- Sapa