Bheki Cele geskors
2011-10-24 15:02
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma het Maandag by die Uniegebou in Pretoria aangekondig dat genl. Bheki Cele, nasionale polisiekommissaris, geskors is.
Die president se aankondiging kom nadat daar wyd bespiegel is oor ‘n moontlike kabinetskommeling.
Zuma se stappe teen Cele kom ná die omstrede polisie-huurkontrakte wat die polisiekommissaris in ‘n slegte lig geplaas het.
Zuma se besluit kom ook nadat daar hewige druk op hom geplaas is om Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering, en Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, af te dank.
Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), het bevind dat Mahlangu-Nkabinde en Cele onregmatig en onwettig opgetree het in verband met twee huurooreenkomste vir polisiekantore in Pretoria en Durban.
Die OB het ook gesê Mahlangu-Nkabinde het geweier om haar samewerking tydens die ondersoek te gee.
Madonsela het in Julie voorgestel dat Zuma teen Cele en Mahlangu-Nkabinde optree vir hul rol in die ondertekening van die peperduur huurkontrakte.
Zuma het geen melding van Mahlangu-Nkabinde of Shiceka gemaak nie. Genl. Nhlanhla Mkwanazi is as waarnemende nasionale polisiekommissaris aangestel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24