Bfn-vrou se vlammedood ‘uiters ekstreem’
2010-07-29 09:05
Bloemfontein - ’n Bloemfonteinse vrou se selfmoord deur haarself aan die brand te steek, is “uiters ekstreem” en dui moontlik op “erge interne konflik”.
Dít is die mening van dr. Henriette van den Berg, senior dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se departement sielkunde.
Bloemfontein is gister geruk deur die dood van Johanna Breedt, oud-pastoriemoeder van onder meer Ficksburg, Bultfontein en later Wolmaransstad en vrou van emeritus-leraar ds. Johan Breedt.
Breedt is dood nadat sy Maandagaand vermoedelik bensien oor haarself uitgegooi en aan die brand gesteek het. ’n Brandende Breedt is in ’n veldjie langs ’n vriend se huis gevind.
Lt.kol. Annelie Wrensch het gister bevestig die polisie het twee selfmoordbriewe gevind, wat daarop dui dat haar dood nie met misdaad verband hou nie.
Breedt se brandwonde was so erg dat hospitaalpersoneel en paramedici wat haar behandel het, geskok was.
Personeel van die Medi-Clinic, waar sy later die aand dood is, het gisteroggend berading ontvang om hulle te help om die trauma te verwerk.
Rohan Steyn, ER24-paramedikus, sê dit was een van die ergste tonele waarop hy nog was.
Breedt se selfmoord is een van drie selfmoorde wat die ER24-span die afgelope drie dae teëgekom het.
Lesers was ook geskok en het Volksblad gebel en wou weet wat iemand sal dryf om hul lewe op so ’n manier te neem.
“Hierdie is beslis nie ’n tipiese metode om selfmoord te pleeg nie en is uiters ekstreem,” sê Van den Berg. Sy sê vroue neig veral na “sagter metodes” van selfmoord pleeg, soos om ’n pille te drink of hul polse te sny.
“Dié soort optrede dui gewoonlik op erge interne konflik en hou moontlik verband met ernstige teleurstelling of wanhoop,” sê sy.
“Dit is ook moontlik ’n poging om ’n boodskap oor te dra oor haar eie of ander se psigiese nood.”
Van den Berg sê daar is ’n toename in selfmoorde, veral onder mense in die ouderdomsgroep van 15 tot 24, en ook onder ouer mense.
Onder bejaardes is daar glo ’n toename in depressie weens aanpassings in leefwyse en ’n verlies aan ’n ondersteuningsbasis.
Dit spruit moontlik daaruit dat mense sien hoe hul vriende, en hulself ook, ouer en siek raak en selfs sterf.
Dit kan teengewerk word deur familie en vriende wat sterk en nabye verhoudings bou en dit moontlik maak vir die mense om te voel of hulle steeds bydra tot die samelewing.
Breedt sê daar moet ook gefokus word op naasbestaandes van mense wat selfmoord pleeg, omdat hulle lewenslank met vrae moet wroeg en wonder wat hulle kon doen om dit te keer.
“Hulle moet besef selfmoord is dikwels ’n impulsiewe besluit.”
Mense besef nie watter impak hul optrede op naasbestaandes sal hê nie.
Ook hier is ’n sterk ondersteuningsnetwerk nodig, om mense deur die verskillende fases van rou te help.
Die Breedt-gesin wou nie gister met Volksblad praat nie.
Daleen Breedt, die oorledene se dogter, het gevra dat die familie se privaatheid gerespekteer word.
- Volksblad