Bfn-dominee kom af op seun se lyk
2011-03-22 08:00
Bloemfontein - ’n Dominee van Bloemfontein het Saterdagoggend histeries in die huis ingehardloop om ’n mes te kry om sy seun se lyk van die heining af te sny nadat hy homself met ’n tou opgehang het.
Ds. Zack Pienaar, leraar van die VGK Heatherdale, het Saterdag omstreeks 11:00 op sy seun, John-Lee Llewellyn Pienaar (21), se lyk agter hul huis in Waverley afgekom.
Pienaar, ’n opvoedkundestudent in sy tweede jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en pa van ’n 11 maande oue babadogtertjie, was die laaste tyd depressief omdat hy liefdesprobleme ervaar het, het sy pa Maandag gesê.
“Die hele familie was histeries en ons almal is geskok. My vrou is in ’n toestand. John-Lee was ’n fantastiese en saggeaarde mens en ek gaan sy menswees baie mis.
“Hy het alle mense aanvaar soos hulle is en was baie kunstig en goed met sy hande. Hy het ook baie mooi gesing en klawerbord gespeel. Hy was meer as my seun, hy was my vriend,” het ds. Pienaar bedroef gesê.
Volgens hom het hulle Saterdagoggend na sy seun gesoek om sy motor te skuif sodat sy ma kon uittrek om werk toe te gaan. Sy pa het kort daarna op sy lyk afgekom.
“Ek het eers probeer om hom self af te haal, maar besef dit gaan ontmoontlik wees en het toe histeries in die huis ingehardloop om ’n mes te gaan haal,” het hy gesê. Volgens ds. Pienaar is die redes vir sy deun se selfmoord onbekend, omdat hy nie ’n brief gelos het nie.
Pienaar se vriendin en ma van sy kind, Gaynore Clarke, het Maandag hartseer gesê sy het ook geen idee hoekom hy dit gedoen het nie. “Dit is baie moeilik, ek is so geskok,” is al wat sy kon sê.
Pienaar, wat ook as ’n tutor by Tutor Wizard gewerk het, het op 15 Maart op sy profiel op die sosiale netwerk Facebook geskryf; “Ja nee, die lewe... ai” en vier dae voor dit: “nuthn nd no1 wil b able 2 change my mind.”
Alvia Jankelson, een van Pienaar se Facebook-vriende, het Sondag op haar Facebook-profiel geskryf: “kanni slaap JL danki vi di laaste gesels RIP i will always love u and fam.”
Twee roudienste word Dinsdag en Donderdag om 19:00 in die VGK se kerkgebou gehou. Die begrafnis sal die naweek op De Aar wees.
- Volksblad