Bewyse teen hoë 'per ongeluk' gevind
2011-09-22 08:03
Pretoria – Terwyl die polisie die moordsaak teen lt.genl. Richard Mdluli, geskorste misdaadintelligensiehoof van die polisie, ondersoek het, het hulle “per ongeluk” afgekom op bewyse van bedrog rakende voertuie wat hy na bewering gepleeg het.
Mdluli (52) het homself Woensdagoggend by die polisie aangemeld waarna hy in die Pretoriase handelshof verskyn het. Hy staan tereg op ’n aanklag van bedrog en agt aanklagte van korrupsie.
“Ons het per ongeluk hierop afgekom tydens die ondersoek na die moord, maar die staat het ’n sterk en ernstige saak,” het adv. Chris Smith, staatsaanklaer, Woensdag gesê.
“Dit is nie net sommer ’n klomp klagte wat saamgegooi is teen die beskuldigde nie.”
Landdros Nica Setshogoe het Mdluli op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die staat het nie borgtog teengestaan nie.
Luidens die klagstaat word Mdluli daarvan beskuldig dat hy verlede jaar aan Leo Haese BMW, die polisie en Atlantis Nissan voorgegee het, dat sy private BMW 730D ’n voertuig was wat aan misdaadintelligensie behoort en dat dit ingeruil kon word op ’n BMW 3-reeks of ’n BMW 5-reeks. Dit is glo gedoen sodat hy die afslag wat aan die staat toegestaan word, kon kry.
Dié bedrog beloop R1 283 989,01, lui die klagstaat.
Smith het gesê die ondersoekbeampte in die saak voel dat Mdluli nie ’n vlugrisiko is nie en dat hy hofverrigtinge sal bywoon soos wat hy sedert Maart vanjaar in die landdroshof in Boksburg gedoen het.
Hy word in dié hof saam met nog drie mense – twee senior polisiebeamptes en ’n hofbeampte – aangekla van die moord in 1999 op mnr. Oupa Ramogibe, wat glo sy mededinger in ’n liefdesdriehoek was.
Hy is in April vanjaar op borgtog van R20 000 vrygelaat, nadat hy sowat drie weke aangehou is.
Mdluli is kort daarna sonder betaling uit die polisie geskors hangende die uitslag van die moordsaak teen hom en die tugproses.
Volgens Smith is die primêre ondersoek na die bedrog- en korrupsieklagte “99%” klaar. Mdluli mag nie naby die eenheid vir misdaadintelligensie se perseel in Silverton kom nie .
Smith het gesê ’n sekondêre ondersoek moet nog gedoen word, maar dié kan nog maande duur.
Die saak is tot Desember vir verdere ondersoek uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld