Bewyse teen Mngeni 'geloofwaardig'
2012-11-19 14:30
Kaapstad – Een van Anni Dewani se veroordeelde moordenaars het geloofwaardige bewyse teen sy medepligtige gegee, het 'n regter Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê.
Regter Robert Henney het gesê Mziwamadoda Qwabe se bewyse teen die 25-jarige Xolile Mngeni was duidelik, presies, gedetailleerd en chronologies.
Hy het gesê Qwabe het intelligent oorgekom en het hom nie in die getuiebank weerspreek nie.
Mngeni is op aanklagte van moord en roof skuldig bevind. Hy is egter op aanklag van ontvoering vrygespreek.
Henney het sy evaluering van die bewyse as deel van Mngeni se uitspraak van 60 bladsye uitgelees.
Qwabe is gevonnis nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy het getuig dat Mngeni hom gehelp het om die egpaar se voertuig te kaap en dat Mngeni die sneller op Dewani getrek het. Dewani en haar man, Shrien, het ten tyde van die voorval wittebrood gehou in Kaapstad.
Sy getuienis was die enigste direkte bewyse in die hof.
Henney het gesê die bewyse van medepligtiges, soos Qwabe, moet versigtig hanteer word en gestaaf word met bewyse van ander getuies.
Altesaam 26 getuies het vir die staat getuig.
"Baie van Qwabe se bewyse is gestaaf deur ander getuies en ander bewyse," het Henney gesê.
Hy het gesê dit is ten spyte daarvan dat Qwabe nie 'n perfekte getuie was nie, omdat hy hom in sy verklaring aan die polisie en in die getuiebank weerspreek het.
"Die weersprekings is nie van so 'n aard dat dit die geloofwaardigheid en konsekwentheid beïnvloed het nie."
Die verdediging het uitgewys dat Qwabe aanvanklik onskuldig gepleit het op aanklag van moord en dat hy om dié rede nie vertrou kan word nie.
Qwabe het in die getuiebank gesê hy het nie gedink hy is skuldig aan moord nie, omdat hy nie die sneller getrek het nie.
Hy het eers later die konsepte van ondermeer sameswering om moord te pleeg, verstaan.
"In my opinie is dit 'n redelike verduideliking, in ag genome dat Qwabe nie 'n regsgeleerde is nie," het die regter gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA