Bewerings van komplot teen Zuma 'spekulatief'
2011-09-26 08:08
Kaapstad – Die departement van staatsveiligheid het Sondag geweier om betrokke te raak by bewerings dat daar ’n aanslag op van sy senior amptenare is, omdat pres. Jacob Zuma vrees hulle is deel van ’n komplot om van hom “ontslae” te raak.
Brian Dube, woordvoerder van dr. Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, het by navraag gesê “ons verkies om uit die geveg te bly”.
“Ons wil eerder nie kommentaar lewer nie. Die (media)berigte is spekulatief.”
Dube het verwys na ’n berig in City Press waarin beweer word dat senior intelligensiebronne aanvoer dat Zuma nóg vir Gibson Njenje, hoof van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) se binnelandse afdeling, nóg die nasionale polisiehoof, komm. Bheki Cele, vertrou. Die president sien hulle glo as deel van ’n komplot om hom uit die kussings te lig. Moe Shaik, hoof van SSA se buitelandse afdeling, se kop kan glo ook rol.
Luidens dié berig het Zuma se stryd om politieke oorlewing as leier van die ANC in die aanloop tot die regerende party se leierskapverkiesingskongres aanstaande jaar – soos op 2007 se Polokwane-kongres – weer ’n uitwerking op die land se intelligensiedienste.
’n Herrie het vroeër vandeesmaand losgebars nadat Cwele glo sy vertrouelinge ingelig het dat Njenje bedank het. Njenje het ontken dat hy bedank het, maar skriftelik aangebied om te bedank, mits sy volle vergoedingspakket uitbetaal word.
Luidens ’n ander berig in die Sunday Times, kan Zuma so vroeg as vandeesweek al vir Cele skors oor sy beweerde betrokkenheid by die goedkeuring van twee omstrede huurooreenkomste vir polisiegeboue.
Dube wou hom verder ook nie oor ’n derde berig uitlaat wat wys op finansiële wanbestuur in die SSA en vrese dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid deur “buitelandse agente” geïnfiltreer word nie.
“Ons het nog nooit die verslag onder oë gehad nie en daarom gaan ons nie kommentaar lewer nie.”
Luidens die laaste berig toon ’n verslag van die gesamentlike parlementêre staande komitee oor intelligensie dat LP’s nou vra dat gesofistikeerde selfone en ander afluister-apparate verbied word.
Hulle pleit verder vir beter koördinering van intelligensiestrukture om sodoende die infiltrasie van buitelandse agente te voorkom.
Cecil Burgess, ANC-woordvoerder van dié komitee, het nie gereageer op boodskappe om kommentaar nie. Njenje kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad