Beweerde mishandeling van plaaswerkers ondersoek
2013-01-16 18:08
Kaapstad – Bewerings van onmenslike behandeling van stakende plaaswerkers in die Wes-Kaap sal ondersoek word, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) Woensdag gesê.
Isaac Mangena, woordvoerder vir die Menseregtekommissie, het verskeie klagtes ontvang rakende die skending van menseregte in die Boland-steek waarby plaaswerkers en landelike bewoners, insluitend vroue en kinders, betrek word.
“Die Menseregtekommissie monitor die betogings en het tot op hede klagtes ontvang teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die boere en privaat sekuriteitsmaatskappye,” het hy gesê.
Hierdie klagtes sluit in aantygings van die polisie wat saamsweer met boere, die gebruik van oormatige geweld teen werkers, polisie-brutaliteit, onregverdige arbeidspraktyke, lewens- en werksomstandighede wat uitgebuit word en rassistiese en onmenslike behandeling van werkers en landelike bewoners.
“Ons vra dat ‘n oplossing vir die loondispuut tussen die boere en die plaaswerkers dringend gevind word en ons doen ‘n beroep op alle partye om binne die beperkings van die wet op te tree.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA