Beweerde OTM-rower doodgeskiet
2011-08-09 15:50
Johannesburg – 'n Beweerde OTM-rower is noodlottig gewond in 'n skietgeveg met polisielede in Vosloorus, het die Gautengse polisie Dinsdag gesê.
'n Groep mans het Maandagaand 'n winkel in Brakpan bestorm waar hulle na bewering kontant gesteel het en probeer het om 'n kitsbank binne die winkel op te blaas, het kaptein Katlego Mogale gesê.
Die verdagtes het daarna in 'n Mercedes Benz op die vlug geslaan en is deur die polisie agterna gesit.
'n Skietgeveg het uitgebreek en een van die rowers is noodlottig gewond.
Die ander verdagtes het te voet verder gevlug.
Twee AK47-aanvalsgewere, 'n 9mm-pistool en kontant is binne die motor gevind. Die Mercedes is vroeër in Brakendowns gekaap.
'n Saak van gewapende roof, pogings om 'n OTM op te blaas en poging tot moord word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA