Betogers versper N2 in Kaapstad
2011-07-14 07:35
Kaapstad – Talle inwoners van Nyanga in Kaapstad is in hegtenis geneem nadat hulle vroegoggend die N2 in Kaapstad met brandende motorbande versper het, het die polisie gesê.
"Ek het nie die presiese getal byderhand nie, maar ek kan bevestig dat 'n aantal mense vir openbare geweld in hegtenis geneem is," het ao. November Filander, polisiewoordvoerder, gesê.
Filander het gesê sowat 60 inwoners van die Crossroads informele nedersetting naby die Kaapstadse Internasionale Lughawe het omstreeks 05:30 oor swak dienslewering in die gebied betoog.
Hy het gesê die groep is intussen uit mekaar, maar die polisie monitor die gebied.
'n Gedeelte van die N2 rigting Kaapstad tussen die R300 en die lughawe is vir verkeer gesluit weens die betoging en ongelukke, berig die SABC.
– Volg Nuus24 op Twitter
– Is jy in die omgewing? Stuur jou foto's aan Nuus24.
- SAPA