Betogers versper Goue Hoofweg
2010-02-22 10:47
Johannesburg - Ontstoke Orange Farm-inwoners het Maandagoggend verkeer op die Goue Hoofweg in Johannesburg met brandende bande versper.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het gesê hulle weet nie hoeveel mense betoog nie, maar dit is "baie".
Dié betoging is die jongste in 'n vlaag van betogings oor basiese geriewe.
Volgens polisiebeamptes op die toneel kla inwoners dat hulle nie toiletgeriewe het nie, en dat die paaie in 'n slegte toestand is.
Verkeersvloei tussen Palm Springs en die spoorwegbrug is erg ontwrig.
Minnaar het motoriste aangeraai om die N1-snelweg as 'n alternatiewe roete te gebruik.
– Sapa