Betogers skiet op brandweer, bestook polisie
2010-03-09 10:15
Johannesburg – Betogers het met lewendige ammunisie op brandweermanne geskiet, polisie met klippe bestook en paaie in Mamelodi-Oos versper, het die Tshwane-munisipaliteit Dinsdag gesê.
“Die situasie is baie gespanne,” het woordvoerder Console Tleane gesê.
Die betogings het glo rondom 20:00 Maandagaand begin en was steeds aan die gang teen 08:00 Dinsdagoggend.
“Betogers het bande en ander items gebrand en die paaie versper. Tshwane-metropolisie en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat uitgeroep is na die toneel, is met klippe bestook,” het Tleane gesê.
“Tshwane-brandweerdienste kon ook nie die brande volledig blus nie aangesien hulle ook aangeval is.
“Sommige betogers het met lewendige ammunisie geskiet.”
Die betoging is glo gelei deur inwoners van Phomolong.
Verskeie strate, insluitende Tsamayastraat op die hoek van Mabenastraat, sowel as Hans Strydomstraat, op die hoek van Hector Petersonstraat, is versper.
“Daar word verwag dat motoriste dit moeilik mag vind om by die werk te kom, veral in die geraakte areas.”
- Sapa