E-tol: Betogers begin saamdrom
2012-11-30 11:06
Johannesburg – Paaie in Pretoria en die Goudstad sal na verwagting vandag gesluit word met Cosatu se beplande optogte teen die omstrede e-tolstelsel.
Sapa het berig dat betogers reeds in Pretoria naby Sophie De Bruyn- en Johannes Ramokhoase-straat begin saamdrom het, van waar hulle na die departemente van vervoer en finansies sal opruk om memorandums teen die e-tolstelsel te oorhandig.
Johannesburgse deelnemers het by die Mary Fitzgerald-plein in Newtown vergader en sal na die Gautengse premier se kantoor asook die departemente van vervoer en behuising loop om memorandums te oorhandig.
RSG berig die memorandum sal besonderhede verskaf oor hoekom die stelsel nie ingestel moet word nie.
Betogers in beide Pretoria en Johannesburg het plakkate omhoog gehou, en heelwat rooi Cosatu-T-hemde was te sien.
"Ons wil nie die e-tolstelsel hê nie," het een plakkaat gelui. "Tolpaaie in Gauteng is nie volhoubaar nie," was die slagspreuk op 'n ander.
Die vakbond Numsa het saam met Cosatu 'n beroep gedoen op alle werkers, werkloses, studente en motoriste om op die strate toe te sak om hul misnoeë met die nuwe tolhekke uit te spreek.
Die regering het vroeër gewaarsku dat enigiemand wat eiendom by die betogings beskadig, vervolg sal word.
Die waarskuwing kom nadat Dumisani Dakile, Cosatu se Gautengse sekretaris, gesê het die vakverbond gaan die e-tolstelsel se stellasies afbreek indien die regering nie na hulle luister nie.
Dakile het egter aan Eyewitness News gesê hy is verkeerd verstaan en het bedoel om te sê dat die regering wat die huise in Lenasia gesloop het, ook die tolpadhekke moet afbreek.
Sapa het vroeër berig die sekretaris-generaal van die vakverbond, Zwelinzima Vavi, het gesê dié optog is net die begin.
“Op die sesde Desember gaan ons nie net ‘n optog hou nie, maar die regering ‘n voorsmakie gee van wat hulle in Maart kan verwag as hulle die wet van krag gaan maak en die implementering van die e-tolstelsel afdwing,” het hy gesê.
Regeringsamptenare sê die optog sal noukeurig gemonitor word.
Volg Nuus24 op Twitter