'Beter wapens vir polisie' – Sapu
2011-09-29 21:13
Johannesburg – Die polisie moet toegerus word met wapens soortgelyk aan dié wat deur swaar gewapende misdadigers gebruik word, het die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) Donderdag gesê ná die moord op ‘n polisiebeampte in Bizana in die Oos-Kaap.
“As jy na ‘n oorlogsone gaan, moet jy ook so gewapen wees,” het Oscar Skommere, woordvoerder van die unie, in ‘n verklaring gesê.
Konst. Manwabisi Gqamane (25) het Woensdag in die hospitaal beswyk aan wonde wat hy opgedoen het tydens ‘n skietery met ‘n bende wat AK-47-gewere gehad het.
Die polisiebeamptes is Dinsdagaand ontplooi na ‘n Shoprite-winkel en die bende het op hulle losgebrand toe hulle gearriveer het. Ses polisiebeamptes is gewond. Gqamane het later in die hospitaal gesterf.
Die unie het medelye met Gqamane se familie uitgespreek en die beseerde beamptes ‘n spoedige herstel toegewens.
Die nasionale polisiekommissaris, genl. Bheki Cele, het Woensdag die gewonde polisiebeamptes besoek. Hulle is in ‘n kritieke maar stabiele toestand, het kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, gesê.
‘n Lid van die bende is in die skietery dood en ‘n ander is gewond. Die polisie het ‘n 9mm-pistool teruggevind. Drie sakke met ‘n onbekende hoeveelheid geld in, is in ‘n motor waarin die bendelede sou ontsnap, gevind.
‘n Agt-en-dertig-jarige vrou is Dinsdag in hegtenis geneem. ‘n Sak munte en ses vuurwapens is teruggevind. Vier van die vuurwapens is gesteel by die polisiebeamptes wat geskiet is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA