Beter opleiding vir staatsamptenare nodig - IVP
2013-01-26 09:57
Johannesburg – Die Inkatha Vryheidsparty het die regering gevra om dit te oorweeg om ‘n skool vir staatsamptenare te skep.
Narend Singh, woordvoerder oor finansies, het Vrydag gesê hierdie behoefte word beklemtoon deur nuus dat nasionale regeringsdepartemente R35 miljard in drie jaar op konsultante spandeer het.
“Die oormatige gebruik van konsultante soos getoon in die verslag van die ouditeur-generaal is ‘n duidelike aanduiding van openbare diens wat agteruit gaan,” het Singh in ‘n verklaring gesê.
"Kaderontplooiing, nepotisme en baantjies vir boeties moet 'n ding van die verlede word. Meriete moet die enigste basis wees op grond waarvan staatsamptenare in senior posisies aangestel word.”
Hy sê die skool sal voornemende regeringsbeamptes van ‘n een jaar lange basiese kursus in openbare administrasie voorsien voordat hulle aangestel word.
Kimi Makwetu, adjunk-ouditeur-generaal, het Donderdag aan verslaggewers gesê agt departemente het 74% van hierdie totaal, dus R24,6 miljard, spandeer.
Die departemente wat nasionaal uit 42 gekies is, is: korrektiewe dienste, verdediging, omgewingsake, gesondheid, polisie, landelike ontwikkeling en grondhervorming, vervoer en water.
Volgens die opgesomde oudit-uitslae het die departement van verdediging van 2008/9 tot 2010/11 die meeste op konsultante spandeer, ‘n totaal van R10,4 miljard.
“Ons doen dus ‘n beroep op die regering om meer fokus te plaas op die gespesialiseerde opleiding van staatsamptenare wat in strategiese posisies geplaas word, aangesien dit noodsaaklik is dat ons opgeleide mense het wat daartoe in staat is om hul take uit te voer,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA