Beswaard? Bel vir Zuma
2009-09-14 07:35
Lizel Steenkamp
Beswaard? Bel pres. Jacob Zuma by 17737.
Dié langverwagte tolvrye presidentsklagtelyn sal vandag van 09:00 tot 16:00 beskikbaar wees. En, beloof Zuma se kantoor, beswaardes kan binne 36 uur terugvoering verwag.
Volgens mnr. Vusi Mona, woordvoerder, sal Suid-Afrikaners teen Oktober van 08:00 tot 22:00 kan bel wanneer die personeel in skofte sal werk.
Bykans ’n 100 mense sal die oproepe hanteer en afhangend van die klagte dit na regeringsdepartemente en provinsiale regerings herlei.
“Ons het ’n baie stywe mikpunt gestel: daar moet binne 36 uur op ’n klagte gereageer word. Al is dit dan net om vir die klaer terugvoering te gee,” het Mona gesê.
Die klagtekantoor is teen ’n koste van R4?miljoen op die been gebring en die personeeluitgawes sal jaarliks R1,5 miljoen beloop.
Die hoof van die klagtelyn is me. Dudu Fakudze, ’n deurwinterde amptenaar van die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Drie adjunk-direkteure, onder wie die kwaito-ster Eugene Mthethwa wat jare lank saam met wyle Lucky Dube opgetree het, sal onder haar dien.
Zuma het in Mei tydens sy “dankie sê”-toer in Soweto en Alexandra belowe sy regering gaan toeganklik en aanspreeklik wees.
Hy het tóé onderneem om ’n klagtelyn in sy kantoor te installeer waar mense oor dienslewering en ander kwessies kan kla.
Hy het ook onderneem om terugvoering te gee oor hoeveel oproepe die klagtekantoor ontvang en wat die aard van die probleme is.
Volgens Mona verwag Zuma dat provinsiale regerings soortgelyke klagtelyne met toegewysde personeel sal instel om probleme op munisipale vlak, veral in die plattelandse gebiede, te takel.
–Beeld