Bestuurders kritiek beseer in Southgate-ongeluk
2011-05-22 20:04
Johannesburg - Twee bestuurders is Sondag kritiek beseer toe ‘n minibus-taxi en ‘n motor in ‘n kop-aan-kop-botsing by ‘n kruising in Southgate, Johannesburg, betrokke was, het paramedici gesê.
Volgens Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare 911, is 11 mense in die botsing op die kruising van Columbine- en Ou Potchefstroomweg beseer.
“Alle aanduidings is dat die volgelaaide minibus-taxi en die motor die kruising gelyk binnegegaan het en gebots het.”
“Passasiers van die taxi het by die deure van die wrak uitgeval en het naby die voertuig gelê. Die bestuurders van die taxi en die motor het kritieke beserings opgedoen.”
Al die beseerdes is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA