Bestuurders dalk aangekla ná gru-ongeluk
2011-11-17 09:09
George – Aanklagte van strafbare manslag wag moontlik op die bestuurders van die vragmotor en die taxi wat Dinsdag in ’n ongeluk op die N1 by Prins Albertweg betrokke was.
Die ongeluk, wat die lewe van 19 mense geëis het, het plaasgevind toe twee minibustaxi’s vroeg Dinsdagoggend kort ná mekaar teen ’n stilstaande vragmotor gebots het. Een van die taxibestuurders het in die ongeluk gesterf.
Blykbaar het die vragmotor se brandstof opgeraak.
Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het Woensdagmiddag gesê die polisie ondersoek aanklagte teen die twee mans. Die oorsaak van die ongeluk sal eersdaags bekend gemaak word.
Faiza Steyn, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het gesê van die 17 mense wat die ongeluk oorleef het, is een vrou steeds in ’n kritieke toestand. Sy is Woensdag van die provinsiale hospitaal op Beaufort-Wes na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. ’n Man en ’n vrou wat ernstige kop- en rugbeserings opgedoen het, is na die George-hospitaal oorgeplaas.
Africa wou hom nie uitlaat oor die moontlike oorsaak van die ongeluk nie. Hy het egter daarop gewys dat as ’n voertuig onklaar raak, die bestuurder dit eerstens uit die pad moet probeer verwyder. As dit nie kan nie, moet die onmiddellike omgewing teen aankomende verkeer beveilig word.
Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel- Assosiasie (AA), het ook gesê as ’n voertuig onklaar raak, moet probeer word om dit te verwyder. In die geval van swaar vragmotors moet waarskuwingstekens om die voertuig aangebring en die noodligte aangeskakel word. Dié onus rus op die bestuurder.
As ’n voertuig sonder brandstof gaan staan en dit belemmer verkeer, is die bestuurder skuldig aan ’n misdryf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger