Bestuurder vas ná sokkerspelers verongeluk
2012-11-12 14:18
Johannesburg – Die bestuurder van ‘n bakkie wat teen ‘n minibustaxi gebots en die lewe van vier sokkerspelers geëis het, is in hegtenis geneem, het die polisie gesê.
Brig. Hangwane Mulaudzi sê die 36-jarige man is ná die ongeluk vir ligte beserings behandel en daarna op aanklagte van dronk- en roekelose- of nalatige bestuur vasgetrek.
Die vier spelers het gesterf toe die bakkie die taxi op die R71 naby Polokwane, Limpopo, getref het.
Die taxi het in aankomende verkeer beland, waar ‘n bus wat lede van die Zion Christian Church vervoer het, teen die minibus vasgery het.
Volgens die polisie was die span (Polokwane City), wat voorheen as Bay United bekendgestaan het, op pad terug van 'n Eerste Liga-wedstryd teen Atlie FC (voorheen FC AK) by die Universiteit van Limpopo, toe die ongeluk gebeur het.
Vier sokkerspelers het op die toneel gesterf, terwyl sewe ander in ‘n hospitaal opgeneem is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA