Bestuurder vas ná gru-ongeluk in Jhb
2013-02-20 07:00
Johannesburg – Die bestuurder van 'n vragmotor wat betrokke was in 'n ongeluk waarin vyf mense dood is, is Dinsdag in hegtenis geneem, het die Johannesburgse metropolisie gesê.
Dít volg nadat 'n vragmotor in Kibler Park, suid van Johannesburg, teen vier motors gebots en die voertuie in vlamme uitgebars het. Vyf mense, insluitend 'n baba, is dood.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het gesê die man staan tereg op vyf aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.
"Hy word tans by die Mondeor-polisiekantoor aangehou."
Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê die slagoffers is onherkenbaar verkool.
"Sewe ander mense is op die toneel behandel voor hulle na verskeie hospitale in die gebied geneem is."
Brandbestryders het ure lank gespook om die brand te blus.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA