Bestuurder van doodstaxi in November verhoor
2011-06-17 14:07
Kaapstad – Die saak teen die taxibestuurder wat glo verantwoordelik is vir een van die grootste taxi-ongelukke ooit in die Kaap, is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot 7 November 2011 uitgestel vir verhoor.
Vrydag was die finale voorverhoor vir Jacob Humphries, wat teregstaan op 10 aanklagte van moord. Hy was die bestuurder van die taxi wat kinders skool toe vervoer en in Augustus 2010 deur 'n trein getref is.
Ouers, vriende en familie van die kinders wat in die ongeluk gesterf het, het die klein hofsaal Vrydag volgepak om te hoor dat adv. Johann Engelbrecht SC. deur regshulpowerhede aangestel is om die verdediging te behartig. Engelbrecht het ook die verdediging van Cezanne Visser, oftewel adv. Barbie, wat tronkstraf vir seksuele oortredings uitdien, behartig, berig Sapa.
Humphries het na bewering 'n ry motors wat by 'n spooroorgang gewag het verbygesteek en toe teen 'n verbygaande trein gebots. Nege kinders is op slag dood, terwyl die 10de kind in die hospitaal gesterf het.
Lees meer hier
Volg Nuus4 op Twitter