Bestuurder rand verkeersbeampte aan
2011-11-09 21:01
Johannesburg – ‘n Taxibestuurder is in hegtenis geneem nadat hy ‘n verkeersbeampte aangerand en van die toneel probeer vlug het, het die Wes-Kaapse verkeersdienste Woensdag gesê.
Die taxi is Dinsdag langs die Stellenbosch-pad in Blackheath afgetrek. ‘n Boete is vir die bestuurder uitgeskryf omdat geen lisensieskyf teen die voorste ruit uitgestal was nie, het hoofinspekteur Merle Lourens gesê.
“Terwyl die beampte die verkeersboete uitgeskryf het, het die bestuurder hom onverwags aangeval.”
Toe die beampte probeer het om hom in hegtenis te neem, het die bestuurder in die minibus-taxi gespring en met die skouer van die pad langs probeer wegkom.
Die taxi het toe teen ‘n motor by ‘n kruising gebots, het Lourens gesê.
Die bestuurder (39) het toe probeer weghardloop, maar is deur die beampte vasgetrek.
‘n Tienjarige seun wat in die motor gereis het, het ernstige beserings opgedoen, insluitende ‘n ontwrigte skouer en ‘n sny aan sy kop. ‘n Man (39) en ‘n vrou (27) wat ook in die motor gereis het, het nek- en rugbeserings opgedoen.
Die bestuurder van die minibus-taxi het onbetaalde boetes van tot R7 200 gehad.
Hy is aangekla van roekelose en nalatige bestuur en aanranding. Hy is ook onder meer daarvan aangekla dat hy weerstand teen inhegtenisneming gebied het en van ‘n ongelukstoneel gevlug het.
Hy sal eersdaags in die hof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA